Wednesday, September 27, 2006

sidderland



Sutherland hét 'n hotel. Heel gepas is dit Sutherland Hotel gedoop. Dit spog met een hele ster (ironies: ons gaan Sidderland toe en sien net een ster! Net één!).

Die hotel het 'n kroeg. Daar is 'n big screen en oorlede rooikatte teen die muur. Plaaslike manne kyk rugby op die big screen. Die oorlede rooikatte hang net rond. Die kroeg het ook 'n tannie agter die counter. 'n Lang sigaret met 'n wit filter hang aan haar lippe wanner sy glase vol maak.

Na die rugby waai die plaaslike manne.

Ander plaaslike manne kom in: Dirk en Handré. Hulle dra keppies en lelike padded baadjies wat in die laat tagtigerjare cool was. Hulle sien my vriendinne, wat, so tussen ons gesê, nie die lelikste mense op Godsaarde is nie. Hul oë rek, hul monde kwyl. Hulle koop vir my mooi vriendinne drankies, hulle gooi darts, hulle skiet pool. Ek weet nie wat hulle gesels nie. Die enigste persoon in die kroeg waarmee ek wil praat, buiten my vriende en vriendinne, is Jack Daniel.

Nog plaaslike manne kom die kroeg binne. Daar is 'n jukebox. Mens kan sokkietreffers speel. Mens kan ook R&B speel. Mense dans. 'n Vriend en een van my mooi vriendinne verwyder my fisies van die kroeg om te dans. Ek het met my mooi vriendin gedans, nie my vriend nie. My vriend kan nou niks daarvan onthou nie…

Bertie, wat “nog nooit AIDS gehad het nie”, kom die kroeg binne. “Kom speel pool,” sê hy vir my. Ek en een van my mooi vriendinne speel teen Bertie en Dawid pool. Ons wen. Bertie koop vir my en my mooi vriendin en 'n ander random local 'n shooter. “Laat hy val waar hy wil, nettie oppie grontie,” sê Bertie.

Dirk koop vir my mooi vriendin 'n pakkie fudge. Sy kom staan langs my. Dirk se gesig verdonker in 'n “ek-gaan-jou-nou-moer” uitdrukking. “Dit is my boyfriend, Jan,” lieg my mooi vriendin. “Ooo, ek ken vir Jan,” sê Dirk. Hy koop vir een van my ander mooi vriendinne fudge. Sy wil dit nie hê nie. Dirk se teleurstelling lyk groot. Sy lus groter.

Intussen sê 'n dik local iets rassisties aan een van my mooi vriendinne. Hy sê ook iets homofobies aan een van my vriende, wat met my mooi vriendin gedans het.

Ek en my ander mooi vriendin speel weer pool. “Dis nie djy nie, dis jy!” snou een van die locals haar toe. Hulle probeer die heeltyd soos gangsters praat, en lag dan vir hulself.

My mooi vriendin, wat die rassistiese aanmerking gekry het, wil little girl’s room toe gaan. Ek stap saam en staan buite die deur. 'n Local klipkop sê, “Ek wil nou piepie.” Ek sê, “Jy moet maar iewers anders gaan piepie.” Hy stoot die deur effens oop. Ek pluk dit toe. Hy sit die lig af. Ek sit dit aan. Hy stoot die deur weer oop. Ek pluk dit weer toe. My mooi vriendin kom uit. Ons loop.

O ja: Sterre! Dit is hoekom mens 'n plek soos Sidderland deurmaak. Mens kan jou ogie by 'n teleskoop hou en loer na planete. Of jy kan deur SALT (South African Large Telescope) kyk wat 'n paar miljoen jaar gelede met sterre gebeur het. Of jy kan die melkweg met die blote oog aanskou, want Sidderland se nagte is moerse donker.

Ek staan op die eensterhotel se balkon, rook Bertie se laaste sigaret, kyk na die melkweg, hoor die kerkklok vyf keer slaan, hoor 'n haan kraai, en mis Kaapstad se pers naglug.
Ek gaan slaap. My bed spin. Bleddie eensterhotelle.

3 Comments:

Blogger gm said...

Jou beskrywing van die aand is perfek! Ten spyte van al die stront, was dit nog steeds een van die lekkerste kuiers wat ons vanjaar gehad het. Sal nooit weer Sutherland toe kan gaan nie, sal nie dieselfde wees sonder julle nie.

4:16 PM  
Blogger Jan said...

wat?! kan jy dan die aand onthou?

1:40 PM  
Blogger M.E. said...

die foto's het almal so 'n 'eeriness'/'creepiness'(help my, kan nie spel nie) aan hulle...cool...

8:28 AM  

Post a Comment

<< Home